DIE VERWEER VAN PROVOKASIE IN DIE STRAFREG

Kan ‘n beskuldigde in ‘n strafverhoor die verweer gebruik dat hy so kwaad geraak het dat hy nie geweet het wat hy doen nie?

In S v Eadie 2002(1) SACR 663 (HHA), het die Hoogste Hof van Appèl uitspraak gelewer wat twyfel bewerkstellig of daar nog ‘n verweer soos nie-patologiese kriminele ontoerekeningsvatbaarheid bestaan.

Die feite in die saak is as volg: X, ‘n kranige hokkiespeler, drink een aand by ‘n sosiale funksie ‘n groot hoeveelheid alkohol. Later die aand klim hy in sy motor en ry huis toe. Y, die bestuurder van ‘n ander motor, steek X verby en bestuur toe baie stadig voor hom sodat X hom nie kan verbysteek nie. Uiteindelik kry X dit reg om vir Y verby te gaan. Y ry toe teen ‘n baie hoë snelheid agter X. Die twee motors stop, X klim woedend uit die motor en gryp sy hokkiestok wat in sy motor was. Hy stap na Y en slaan sy motor met die hokkiestok. Daarna rand hy vir Y aan en ruk hom uit die motor. Y sterf as gevolg van die aanranding. Hierdie is ‘n saak van padwoede. Op die klag van moord opper die beskuldige die verweer van nie-patologiese kriminele ontoerekeningsvatbaarheid.

Die hof bespreek vorige beslissings wat volledig met die verweer handel en dan word daar in par. 57 van die uitspraak bevind dat daar geen verskil is tussen nie- patologiese kriminele ontoerekeningsvatbaarheid te danke aan stres en provokasie aan die een hand, en die verweer van gesonde outomatisme aan die ander hand nie. Meer spesifiek, volgens die hof is daar geen verskil tussen die tweede kognitiewe been van die toets van kriminele toerekeningsvatbaarheid ( X se vermoë

om te handel met die wete dat dit onregmatig/verkeerd is, met ander woorde sy vermoë om die versoeking te weerstaan) en die vereiste wat toepassing vind by die handelingselement dat X se ligaamlike bewegings vrywillig was nie. As X beweer dat hy as gevolg van provokasie homself nie meer kon beheer nie, sou hy dus onwillekeurig opgetree het. So ‘n pleit van onwillekeurige gedrag is niks anders as die verweer van gesonde outomatisme nie.

Die hof bevind nie dat die verdediging van nie-patologiese kriminele onbevoegdheid nie meer bestaan ​​nie en maak wel ‘n paar stellings wat impliseer dat die verweer nog bestaan. Nogtans verklaar die hof dat indien ‘n persoon homself op die verweer van provokasie beroep, kom dit op niks anders neer nie as die verweer van gesonde outomatisme (die verweer dat hy nie vrywilliglik gehandel het nie.) Die hof het ook weereens bevestig dat die verweer van gesonde outomatisme nie maklik slaag nie.

Na die beslissing in Eadie is dit hoogs onwaarskynlik dat ‘n beskuldige sal slaag met ‘n argument/verweer dat as gevolg van sy nie-patologiese kriminele ontoerekeningsvatbaarheid hy vrywillig opgetree het, maar bloot ontoerekeningsvatbaar was.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)